Joseph Szigeti

Joseph Szigeti

Joseph Szigeti (Hongaars: Szigeti József,ˈjoːʒɛf ˈsiɡɛti; 5 September 189219 Februarie 1973) was 'n Hongaarse violis.

Szigeti is in 'n musikale familie gebore, en het sy kinderjare in 'n klein dorpie in Transsilvanië spandeer. Dit het gou geblyk dat hy 'n wonderkind met die viool was. Hy het saam met sy vader na Boedapest getrek ten einde onder die gerekende pedagoog Jenő Hubay te studeer. Nadat hy sy studies onder Hubay in sy vroeë tienerjare voltooi het, het Szigeti sy internasionale konsertloopbaan van stapel gestuur. Op daardie tydstip was sy uitvoerings meestal beperk tot salon-styl uitvoerings sowel as die virtuose repertorium. Nadat hy egter met die pianis Ferruccio Busoni kennis gemaak het, het hy begin om 'n meer deurdagte en intellektuele benadering tot musiek te toon, wat uiteindelik aan hom die noemnaam "Die Skolastiese Virtuoos" besorg het.

Na 'n aanval van tuberkulose het Szigeti in 'n gesondheidsinrigting in Switserland aangesterk. Hy het hom daarna in Genève gevestig waar hy in 1917 'n professor in viool by die plaaslike konservatoria geword het. Dit was in Genève waar hy sy toekomstige vrou, Wanda Ostrowska (1895-1969), ontmoet het, en terselfdertyd bevriend geraak het met die komponis Béla Bartók. Beide hierdie verhoudinge sou lewenslank duur.

Szigeti het van die 1920's tot 1960 gereeld uitvoerings gehou en breedvoerig opnames gemaak. Hy het hom ook as 'n sterk voorstaander van nuwe musiek onderskei, en verskeie nuwe werke deur kontemporêre komponiste is aan hom gewy. Van die mees noemenswaardige stukke wat vir hom geskryf is, is Ernest Bloch se Vioolconcerto, Bartók se Rapsodie No. 1, en Eugène Ysaÿe se Sonate No. 1, G mineur, "Joseph Szigeti". Na sy aftrede van die konsertverhoog in 1960, het hy tot en met sy afsterwe in 1973 op die ouderdom van 80 onderrig gegee en steeds geskryf.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy